Anné - 072 602 9815 | Nilo - 072 737 3968 [email protected]

Kwikstert se topkeuses vir ‘n romantiese uitstappie!

Met Valentynsdag wat so om die hoekie vir ons loer, is jy dalk opsoek na die perfekte plekkie om jou beter helfte te bederf met ‘n vol hart en ‘n vol magie … Gelukkig is ons baie bederf in Pretoria wanneer dit by eetplekke kom! Hier is Kwikstert se topkeuses vir ‘n romantiese uitstappie! 

Valentynsdag vind hierdie jaar op ‘n Sondag plaas, dus is jy nie vasgeknoop aan ‘n romantiese  AANDete nie! Mens kan koffiekuiers, roomys-uitstappies, ontbyt en middagetes hierdie jaar ook oorweeg.

Die Kwikstert-span het ons gunstelinge bymekaar gegooi en vir julle ‘n handige lysie van plaaslike treffers gemaak. In geen spesifieke rangorde nie, hier volg ons topkeuses:

Buffelsfontein Beesboerdery

Hierdie is sommer ‘n lekker bederf vir die manne! Dis plaaslik, Afrikaans en hulle neem “boerekos” baie ernstig op. Hier kan jy voel of jy ‘n lekker gemaklike sondagmiddagete in jou ouma se kombuis geniet, terwyl jy jou hartedief se hand onder die tafel vashou. Gaan eet lekker, drink luuks en geniet ‘n mooi dag!

Bederf jouself! 

Moenie dit misloop nie: Buffelsfontein se mengeldrankies sorg dat julle sommer vinnig op jul gemak is vir enige onvergeetlike romantiese oomblik.  

Buffelsfontein Beesboerdery is geleë in die Greenlyn Village sentrum in Menlo Park.
Binne- en buite-sitplekke word beskikbaar gestel.

Besigtig die spyskaart hier: https://www.beesboerdery.co.za/ 

Caraffa 

Caraffa kombineer ‘n ongelooflike romantiese atmosfeer met smaakvolle kos. Dis warm, welkom en die Italiaanse geur sal jou laat dink jy is in ‘n ander deel van die wêreld. Neem jou geliefde hierheen vir ‘n glimlag en ‘n genoeg warmte om die liefde te laat vlamvat!  

Moenie hierdie misloop nie: Vars oesters

Sit binne.
Besigtig hul spyskaart en inligting hier: https://www.caraffa.co.za/

Crawdaddy’s 

Crawdaddy’s is baie bekend vir goeie kos en ‘n gemaklike atmosfeer. As jy sukkel om ‘n baba-oppasser of ouma te reël, pak die kinders in en neem hulle saam! Of jy nou lus is vir ‘n seekossie of ‘n stukkie vleis, jou mond gaan water. Die dekor sal jou dalk ook sommer laat voel jy is op vakansie op die strand (net so ekstra troos vir almal wat as gevolg van die virus in Jan Tuisbly se kar gery het). 

Takke in Brooklyn, Menlyn, Silver Lakes (kindervriendelik), Montana (kindervriendlik) en Centurion. 

Besoek die webtuiste vir meer inligting: https://crawdaddys.co.za/  

Blos Café

Blos Cafe is ‘n pragtige restaurant met lekker sitplekke buite in die natuur – dit voed liggaam en siel. Blos bedien als van koffie tot cognac, ligte etes tot warm sielskos – daar is iets vir enige smaak en enige tyd van die dag. Perfek vir ‘n informele dag- of bekoorlike aand-uitstappie. Net waarvoor jy lus is, maar met ongekende smaak en styl aangebied! 

Blos Café het ook ‘n oulike Valentynsboks wat jy kan wegneem en tuis geniet (dit het weer sy eie voordele en bekoring).  

Geleë in Olympus Road, Pretoria-Oos.
Besigtig meer inligting hier: https://www.bloscafe.co.za/

Clay Café (Red Barn en Wolwespruit)

Clay Cafe is ‘n wonderlike idee indien jy nie stil kan sit nie en hou van ietsie om jou hande besig te hou en jou kreatiwiteit te prikkel (terwyl jy eet – natuurlik!). Beide Red Barn en Wolwespruit is in asemrowende gebiede geleë en die uitsig sal jou wederhelfte nie teleurstel nie. Vir ‘n kombinasie van vars lug en kreatiwiteit sal hierdie uitstappie jou ontspanne en van voor af verlief laat. 

As kryte en verf nie eintlik jou ding is nie, maar eerder meer AKTIEWE aktiwiteite – beide Clay Cafe-liggings is naby aan opwindende fiets- en hardlooproetes. Laat julle harte vinniger klop deur die natuur saam met jou geliefde te geniet voordat jy ‘n lekker etetjie geniet. So voel mens ook so bietjie minder skuldig oor die ete!  

Clay Cafe Wolwespruit het drie verfsessies vir Valentynsdag beskikbaar en mens moet vooraf bespreek. Loer bietjie hier: https://www.facebook.com/claycafewolwespruit/photos/pcb.242925907332999/242909294001327/ 

Goeie kos, ‘n lekker atmosfeer of ietsie anders – Pretoria bied ongelooflike lekker doen-dinge wat sorg vir kwaliteittyd saam met jou beter helfte. Loer gerus ook na hierdie lekker uitstappies: 

 

Lees meer oor Valentynsdag geskenkidees in hierdie artikel: VALENTYNSDAG OP ‘N BEGROTING – GESKENKIDEES WAT JY KAN BEKOSTIG!

 

ADRES

Jochem Straat 264 
Rietvalleirand
Pretoria
0181

KONTAK

Anné - 072 602 9815
Nilo - 072 737 3968
[email protected]