Aandag, besighede: Spelreëls vir oorlewing

Deur: Anna Gouws

Die meeste spele wat ons ken het ‘n eindpunt. Dink maar aan ‘n rugbywedstryd of ‘n skaaktoernooi; selfs ‘n koorkompetisie of ‘n bordspel. Daar is reëls, daar is spelers, daar is ‘n begin en ‘n einde. En die inligting aangaande die reëls en die spelers en die verloop van die spel is bekend, selfs gepubliseer in ‘n netjiese glansbladboekie. Jy kan op die internet ‘n soektog loods oor die korrekte hantering van hierdie of daardie uitsondering of jy kan op een of ander aanlynplatform aan ‘n heftige debat deelneem oor die implikasies van ‘n sekere reël se bewoording.

Dan kan jy, veral wanneer die spel professioneel gespeel word, ongeag of jy ‘n toeskouer of ‘n deelnemer is, die spelers of spanne gaan bestudeer. Jy kan kyk hoe hulle in die verlede die spel benader het, wat hulle sterk- en swakpunte is, en hoeveel ervaring hulle het. En wanneer die spel nie professioneel gespeel word nie, soos ‘n bordspel by Hartenbos oor Desember, dan is daardie inligting sonder meer beskikbaar – dit is nou veral insigte aangaande jou opponente se sterk- en swakpunte (veral swakpunte), juis omdat jy waarskynlik teen jou man of vrou, boeties, sussies, niggies en nefies speel.

Dit is wat Simon Sinek in sy boek The Infinite Game ‘n eindige teenoor ‘n oneindige spel noem. ‘n Eindige spel is een met duidelike grenslyne, vaste reëls, en ‘n vooraf bekende aantal spelers. Besigheid werk nie so nie (die lewe ook nie, vir wat dit werd is), want besigheid is nie ‘n eindige spel nie en ons maak ‘n groot fout, aldus Sinek, as ons dit soos een benader. En hoe diagnoseer hy hierdie flater van ons, vra jy? Deur ons woordeskat en wat daardeur verklap word oor ons oortuigings. Stellings soos, “ons moet ons kompetisie uitstof” of “ons moet die beste wees in ons veld”, wys daarop dat ons veral in terme van wenners en verloorders, suksesse en nederlae aan besigheid dink.

Dít terwyl besigheid, soos die lewe, basies alles is wat ‘n eindige spel nie is nie. Daar is nie eintlik reëls nie, die spelers kom en gaan op ‘n heel onvoorspelbare trant, daar is miskien ‘n beginpunt, in dié sin dat jou besigheid êrens op ‘n dag gekonsepsualiseer is en toe begin handel het, maar daar is definitief nie ‘n eindpunt nie – ‘n punt wat jy van dag een af weet “as ek (of my opponent) dít bereik of wanneer dáárdie hoeveelheid tyd verloop het, dan het ek gewen (of verloor), dan is die spel verby en dan kan ek huis toe gaan”.

Daarmee probeer ek nie sê dat ons nie suksesse kan bereik in besigheid nie. Natuurlik kán en móét ons doelwitte stel en najaag en dit vier wanneer ons hulle bereik, maar ná een doelwit kom daar nog een, en nog een, en nog een, tot ons eendag opgee, aftree, uittree (of bankrot speel). En dit is die aard van ‘n oneindige spel. Die spel hou nie op nie, die spelers wissel net.

Boonop is die doel nie om te wen nie, die doel is om te oorleef. En om te oorleef in ‘n wêreld waar dinge konstant besig is om te verander (dink maar aan die impak van Covid op besighede), ‘n wêreld waar jy moet aanpas by die mark se behoeftes (millennials koop, verbruik en belê heel anders as baby boomers, byvoorbeeld), en ‘n wêreld waar ‘n nuwe speler wat dieselfde produk of diens as jy lewer enige oomblik die mark kan betree (Capitec, enigiemand?), beteken dat jy voortdurend moet groei, moet aanpas en moet verbeter.

Maar die werklikheid van die saak is dat jy, met ‘n bietjie geluk, miskien sal oorleef, maar kwalik sal floreer as jou enigste beweegrede die dinge is wat ek hierbo genoem het – die besigheidsomgewing, jou mark, en jou mededingers. Terwyl jy dus gaan stagneer as jy nié aanpas nie, gaan jou groei rigtingloos wees as dit nie gedryf word deur jou bestaansrede nie. Jou bestaansrede is jou lewensaar. Dit is die sleutel tot jou veerkragtigheid. Wanneer jy weet hoekom jy doen wat jy doen, het jy ‘n groot voorsprong in die oneindige spel. Jy, bedoelende jou besigheid, kan oor generasies heen oorleef én floreer, kan aanpas en vernuwe terwyl jy getrou bly aan wie jy is, en kan ‘n waardige speler wees wat sáám bou aan ‘n volhoubare besigheidswêreld vir almal om jou – insluitend jou mededingers.

Dít is die reëls vir die oneindige spel. Dít is hoe jy oorleef.

Twiet Hallo! Stuur vir ons ‘n boodskap met jou versoek en ons kom spoedig na jou toe terug.

Say Hello! Send us a message with your request and we will get back to you as soon as possible.