FB | IG | IN

Facebook-statistieke – in Afrikaans!

Almal doen deesdae bemarking op Facebook, maar baie min van ons verstaan die geheel van hoe dit werk. As jy hierdie artikel lees, het jy waarskynlik een of ander vorm van ‘n besigheid en wil weet wat jy kan leer vanuit die statistieke wat Facebook beskikbaar stel. So, kry jou koppie koffie – ons gaan gesels oor Facebook-statistieke, wat elke term beteken en wat jy daaruit kan leer. 

image 3

Hier by Kwikstert is ons passievol oor Afrikaans en daarom gebruik ons hierdie terme in Afrikaans. Maar moenie kommer as jou Facebook ingestel is op Engels nie, ons gee ook die Engelse term langsaan sodat ons kan kophou! 

Selfs al wil jy net eenvoudig suiwer Afrikaans praat, kan jy hierdie artikel ook gebruik om vir ander te leer wat die regte Afrikaanse terme is vir dinge wat ons al alledaags in ‘Ingels’ gebruik. 

Plasingreikwydte | “Reach”  

Dit verwys na die aantal individue wat enige tipe inhoud van jou blad gesien het. Dit sluit beide die plasings, sowel as die resultate van die advertensies in. 

Besoeke | Impressions”

Besoeke verwys na hoeveel keer plasings gesien word. Plasingreikwydte verwys na individue, ongeag van hoeveel keer een persoon ‘n plasing gesien het, maar “Impressions” sluit statistiek in van hoeveel keer dieselfde persoon ‘n plasing of advertensie sien.

Opmerkings | “Comments”

Dit is redelik selfverklarend. Dit verwys na hoeveel keer mense kommentaar gelewer het op jou plasings/advertensies.

Reaksies | “Reactions”

Facebook het verskillende maniere waarop mense kan reageer op ‘n plasing, nl. verbasing, omgee, liefde, kwaad en hartseer. “Reactions” verwys hierna, en dit word deur Facebook beskou as ‘n waardevolle reaksie aangesien die persoon ekstra moeite gedoen het om hulle emosies ten volle te toon.

Mededelings | “Shares”

“Shares” verwys na hoeveel mense jou plasings op hul eie profiele gedeel het. Dit word ook beskou as ‘n waardevolle reaksie, want mense sal net met ander deel waarin glo, of waarvan hulle regtig hou.

Stoor | “Saves”

Hierdie term verwys na die funksie op Facebook om ‘n plasing te stoor (“save”). Dit word gestoor op elkeen se persoonlike profiele en mens kan teruggaan om weer daarna te kyk. Mense stoor dinge vir die volgende redes: 

  • Om dit weer maklik te kry sodat hulle dit vir iemand kan wys.
  • Idees wat hulle later self wil probeer.
  • Omdat die inligting belangrik is vir die individu.
  • Om die inligting te bêre vir later – dalk wil die persoon die produk of diens koop, maar het nie nou dadelik geld nie. 

Bladinteraksie | “Page engagement”

Dit sluit die totale aantal reaksies in wat op jou blad plaasgevind het – opmerkings, voorkeure/”likes” ensovoorts.

Dit wys jou hoeveel keer mense van jou Facebook-blad na jou webtuiste gegaan het. Dit beteken individue stel genoeg belang in jou diens of produk om te gaan kyk water dienste/produkte jy nog kan bied, hoeveel dit kos en hoe om jou te kontak.

Deurklikkoers | CTR of “Click Through Rate”

Die deurklikkoers verwys na hoeveel skakel klikke ‘n blad/advertensie verkry in vergelyking met die hoeveelheid besoeke. Die koers word uitgewerk en gegee in persentasievorm, want dit werk die persentasie mense uit wat op die skakel klik vanuit die besoeke aantal. 

Volgens hierdie artikel is die gemiddelde deurklikkoers oor alle industrieë slegs 0.90%! Maar die gemiddeld vir elke industrie verskil ook baie. 

Bladvoorkeure | “Page likes”

Hierdie is weereens selfverklarend. Dit is die aantal voorkeure wat jy verkry het vir jou blad. Individuele profiele kan jou volg, maar ander besigheidsblaaie kan ook! 

Ons praat van plasingvoorkeure (die aantal “likes” op ‘n gegewe plasing) en dan ook van bladvoorkeure (die aantal wat jou blad volg en jou plasings organies sal sien). 

Bedrag Gespandeer | “Amount spent”

Hierdie is eenvoudig maar net die totale bedrag wat jy spandeer het op advertensies. Wanneer ons vir ons kliënte hulle maandelikse verslag opstel, kyk ons na die bedrag wat in die gegewe maand spandeer is. Ons stel gewoonlik ‘n begroting op vir advertensies en maak seker dat die bedrag spandeer word deur die loop van die maand. 

Dit is wat ons digitale media span besig hou! 

Gemiddelde interaksiekoers | “Average Engagement Rate”

Hierdie statistiek word ook uitgewerk in die vorm van ‘n persentasie. Dit is die totale plasingreikwydte gedeel deur die aantal mense wat in enige vorm gereageer het op jou blad of plasings in ‘n gegewe tyd. Die gemiddelde persentasie regoor alle industrieë op Facebook is 0.27%. 

Ons mik gewoonlik om by 5% interaksiekoers uit te kom vir ons kliënte. 

Nou weet jy… 

Nou weet jy wat al hierdie terme in Afrikaans is. Moenie skaam wees om dit te gebruik nie! 

Jy kan meer uitvind om jou interaksie van jou gehoor te verbeter in hierdie plasing.

Leer ook meer van Facebook advertensies hier!