FB | IG | IN

Hoe om jou sosialemedia-interaksie ‘n hupstoot te gee!

Met soveel leesstof wat op sosiale media letterlik op die punte van jou vingers is, is mense baie kieskeurig oor waar hulle hul tyd spandeer – wat nog te sê van interaksie daarby. Mense rol deur sosialemedia-platforms en is baie selektief oor watter plasings, prentjies of videos hulle meer in-diepte bekyk en watter hulle eerder oorslaan. Sodra hulle jou inhoud onder oë gehad het, besluit hulle dan of hulle NOG van hul tyd gaan afstaan aan ‘n interaksie of gaan hulle net voort na die volgende brokkie inligting. 

image

Interaksie met sosialemedia-plasings, veral plasings deur besighede, is oor die algemeen laag. Om mense se aandag te trek en boonop nog reaksie ook uit te lok, moet jou inhoud besonders wees. Maar hoe doen mens dit?

Ken jou teikenmark (gehoor) 

Elke plasing moet geskep en geskryf word met ‘n spesifieke gehoor ingedagte. Of jy nou ‘n studentemotor aan ‘n 20-jarige wil verkoop of ‘n stasiewa vir ‘n gesin met klein kindertjies adverteer, die beelde en boodskap moet versigtig vir die spesifieke gehoor aanmekaar getimmer word. ‘n Foto van ‘n stasiewa met ‘n stootwaentjie en kinderfietsies sal met jong ouers praat en hulle laat stop om na jou plasing te kyk. Dieselfde persoon sal ‘n plasing oor ‘n klein studentekarretjie heeltemal oorslaan aangesien dit nie in hulle onmiddellike lewensruimte pas nie. Verseker dat jou inhoud en beelde met jou gehoor praat. 

Skep inhoud wat waarde vir jou gehoor toevoeg 

Die konsep van inhoudsbemarking behels dat jy eerder inhoud moet plaas wat waardevol vir jou gehoor sal wees as wat jy inhoud plaas met promosie-waarde. Die algemene reël is dat 80% van jou inhoud waardevol moet wees, terwyl 20% promosie-materiaal kan wees.  

Dit is meer waarskynlik dat ouers wat ‘n veilige gesinsmotor oorweeg ‘n artikel met die titel “Die Top Tien gesinsmotors in Suid-Afrika, gebaseer op veiligheid” sal lees, in plaas van ‘n plasing met spesiale aanbiedings motors sal besigtig.

Deur jou gehoor in te lig en inhoud te plaas wat vir hulle belangrik is, bou jy ‘n vertrouensverhouding eerder as om ‘n verkoop deur te jaag.

Kyk na WANNEER jy jou plasings doen

image 1

Gebruik die platformanalise om die beste plasingstyd vir jou spesifieke gehoor te bepaal. Gewoonlik spandeer besigheid-tot-besigheid kliënte tyd op sosiale media in die vroegmiddag op weeksdae, kliënte spandeer meer tyd op sosialemedia in die aande op weeksdae, maar in die oggende oor naweke. Deur te plaas wanneer jou gehoor aanlyn is, het jou plasing ‘n breër reikwydte en dan ook ‘n hoër interaksiekoers.  

Maak dit MOOI!

Die teks van jou plasing is nie die faktor wat iemand se oog gaan vang nie – jou plasing moet ‘n interessante en mooi prentjie of video byhê. Videos werk beter as ‘n prentjie aangesien die beweging mens se oog vang soos jy deur die platform blaai. 

image 2 1024x722 e

Lok interaksie uit

Partykeer moet ons sommer vir mense sê watter aksie hulle moet neem wanneer hulle ‘n plasing bekyk. Deur te sê “Deel hierdie met jou vriende indien …” of “Vertel ons wat jy dink …” kan jy interaksie uitlok. Mense dink nie gewoonlik daaraan om iets te doen nie, so sê hulle wat hulle moet doen!

Kort jy ‘n hupstoot? Klets met ons.

Kwikstert kan jou bystaan met die maandelikse administrasie agter sosialemedia-inhoud om seker te maak jy plaas inhoud van hoë gehalte wat die beste resultate gaan oplewer terwyl dit jou tyd spaar. Ons bied ook konsultasies en opleidingsessies aan sodat jy beter inhoud self kan skep. So gesels gerus met ons! 

Vind meer uit oor Facebook betaalde advertensies hier, en leer wat al die statistieke beteken hier!