Kom ons gesels oor kuberteistering

Dis darem ‘n wonderlike “aanlyn”-era waarin ons woon! Vanaand se ete is net ‘n paar knoppies weg – of jy nou UberEATS en of jy die nuutste resep op jou Tasty-toep opsoek! Dit gaan my verstand te bowe as ek dink dat ek in die palm van my hand toegang tot biblioteke vol inligting het. Resepte, storieboeke, flieks en reekse, ‘n kamera, ‘n GPS en deesdae sommer ook die naaste Checkers! 

SJOE! 

Maar, tesame met al hierdie fantastiese hulpbronne en gerieflike dienste, is daar talle lokvalle waarvoor ons versigtig en op die uitkyk moet wees. 

Kom ons gesels oor Kuberteistering

Ons hoor al hoe meer van tieners en jongmense wat depressief raak as gevolg van kuberteistering en daarom wil ons graag hierdie saak aanspreek. 

In hierdie artikel gaan ons kyk na ‘n paar vrae rondom kuberboelies en dan gaan ons kyk na hoe ons meer verantwoordelik kan wees aanlyn. 

Wat is ‘n kuberteisteraar? 

‘n Kuberteisteraar is iemand wat jou afknou of boelie d.m.v. sosiale media. Wanneer iemand jou teister, spot of lelike boodskappe van jou versprei deur sosiale media noem mens dit kuberteistering. 

Is dit kuberteistering as ek weet wie my boelie is? 

Ja! Dis die groot probleem van kuberboelies – soms weet ons nie wie die persoon is nie, maar soms kan dit iemand wees wat jy goed ken en dan word jy sommer dubbel en dwars daardeur geraak. 

Voorbeelde van kuberteistering 

Lelike boodskappe oor enige sosialemedia-platform, soos WhatsApp, Instagram, Facebook ensomeer tel as kuberteistering. Dit kan direkte boodskappe wees of ook enige opmerkings wat jy maak op iemand anders se plasings. 

Wanneer jy en jou maatjies op ‘n WhatsApp-groepie lelike boodksappe oor iemand buite die groep vir mekaar stuur is dit ook kuberteistering.

Kuberteistering kan ook plaasvind wanneer wild vreemdelinge lelike en onvanpaste boodskappe vir jou stuur – hulle staan bekend as “cyber predators”. 

Afpersing kan ook ‘n vorm van kuberteistering wees – dis wanneer iemand jou forseer om dinge te doen deur te dreig om foto’s of inligting van jou vry te stel. Die persoon kan jou afpers om vir hulle geld te gee, of kan jou dinge laat doen wat jy nie wil nie.

Is kuberteistering onwettig? 

Die Suid-Afrikaanse wet is opgedateer om kuberteisteraars te kan vervolg. 

Gaan loer bietjie na hierdie pamflet wat handel oor kuberteisteraars en “sexting”. 

Daar is verskeie misdade waarvoor ‘n kuberteisteraar aangekla kan word. 

Wat is die straf vir kuberteistering? 

Die straf vir kuberteistering kan enige iets van tronkstraf tot ‘n boete insluit. 

Ja, jy hoor reg – tronkstraf! 

Kuberteistering is ‘n ernstige oortreding en word ook in die reg so gesien. Kinders dink soms dis snaaks en dat hulle net “speel”, maar mens mag nie speel met iemand se geestesgesondheid nie.

Waarom is Kuberteistering so ernstig? 

Ons almal weet wat ‘n boelie is en is waarskynlik op een of ander stadium self geboelie.

Wat Kuberboelies anders maak is die feit dat jy nou jou boelie saam met jou in jou sak ronddra. Jy neem dit saam met jou huis toe, hy is saam met jou as jy ‘n storie op Netflix kyk, hy is saam met jou op pad skool toe, hy is saam met jou op jou vakansie by die see – die teistering hou net nie op nie.

Dit kan dan baie maklik oorweldigend raak en tot depressie of selfs selfmoord lei.

Het jy geweet dat jou brein nie onderskeid kan tref tussen ‘n fisiese wond en ‘n geestelike wond nie? As iemand jou seer maak met woorde, maak dit net so seer soos iemand wat jou slaan of skop. Jou fisiese wonde kan weer fisies gesond raak, maar hoe plak mens ‘n pleister op ‘n wond wat jy nie eers kan sien nie? 

Hoe weet ek as ‘n vriend/vriendin/kind geteister word? 

As jy vermoed dat iemand afgeknou word, is daar ‘n paar tekens waarvoor jy kan uitkyk: 

Die persoon kan: 

  • Slegter begin slaap; 
  • nie meer ‘n eetlus hê nie;  
  • nie skool toe wil gaan nie; 
  • minder op hulle foon/rekenaar wil wees; 
  • senuweeagtig raak wanneer hulle boodskappe ontvang of 
  • ‘n skielike begeerte om geld te maak/in die hande te kry.

Mammas, kinders is nie toegerus om die druk van sosiale media te kan hanteer nie. Ons kan in ‘n volgende artikel kyk na die newe-effekte van sosiale media, maar ons raai aan dat jou kinders se skermtyd streng gereguleer word. 

Hoe om van ‘n kuberteisteraar ontslae te raak: 

Kuberteistering kan voel soos ‘n donker nag waar die dag net nooit breek nie. As die saak nie aangespreek word nie, kan die saak opeindig in ‘n selfdood. 

Die goeie nuus is dat kuberteistering ontwettig is! As jy bewyse het van die teistering, kan jy jou boelie aankla. En as jy nie weet wie jou boelie is nie, hoe gaan hy jou boelie as jy hom blok? 

So hier is ‘n paar dinge wat jy kan doen: 

  • Praat met iemand! Dit klink simpel, maar as jy met ‘n juffrou, ouer of persoon wat jy vertrou gesels oor die saak, kan julle saam aan idees dink oor hoe om die probleem op te los. 
  • Blok en kla die persoon se profiel op sosiale media aan. Moenie bang wees om dit te doen nie! Ja, die persoon kan nuwe profiele maak om jou te pla, maar verander dan jou privaatheidsinstellings en maak seker dat geen vreemdelinge met jou kan gesels nie. 
  • Hou al die bewyse, met ander woorde, neem skermgrepe van alles! 
  • Hierdie klink dalk simpel, maar moet eenvoudig nie die persoon antwoord nie. 

Vir ‘n laaste wenk, omdat ons weet dat iets soos afpersing bestaan, moenie iets doen (of iets aanstuur) wat iemand rede kan gee om jou af te pers nie. Met ander woorde, moenie onverantwoordelik optree op sosiale media nie.

Maar wat as die boelie iets van my weet wat ek nie wil hê moet uit kom nie? 

Die gevolge van jou dade byt jou altyd waar dit seermaak.

So wat staan jy nou te doen? 

Wel, hier is waar ons begin praat van verantwoordelikheid. Die realiteit is dat baie mense foto’s en boodskappe aanstuur wat hulle eerder nie moes nie. As jou boelie nie kan bewys dat hy/sy sulke foto’s van jou het nie, ignoreer dit, want die kanse is groot dat iemand net ‘n kans vat om bietjie geld uit jou uit te kry. 

As jy van jou boelie ontslae wil raak, moet jy nou maar jou trots sluk en pa staan vir die nagevolge van jou dade. Ja, jy gaan nou maar net moet aanvaar dat daardie foto van jou gaan uitkom. 

Maar weet jy wat?

Jy sal dit oorleef – dis ‘n duur les om te leer, maar jy sal nie weer dieselfde fout maak nie! 

Dinge voel soms asof dit die einde van die wêreld is, maar as jy net 17 jaar oud is, het jy nog ‘n HELE lewe voor jou om na uit te sien. Jy gaan nog baie foute maak, maar dis hoe ons leer en op die ou end is hierdie net ‘n klein dingetjie wat in jou lewe gebeur het. Moenie dat jou fout jou definieer nie, laat jou reaksie daarop wys wie jy werklik is.

Die verantwoordelike gebruik van sosiale media: 

Hoekom moet ons verantwoordelik optree op sosiale media? 

Soos ons geleer het uit hierdie artikel, kan sosiale media gebruik word om ander seer te maak. 

Jy is verantwoordelik vir jou dade en die gevolge daarvan. 

Uiteindelik pas ons maar net die goue reël toe: Moenie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. 

‘n Paar wenke om meer verantwoordelik te wees op sosiale media:

  1. As jy niks goeds het om te sê nie, bly eerder stil. 
  2. Bou mekaar op, moenie mekaar afknou nie. 
  3. Hou jou profiel so privaat moontlik en laat slegs mense wat jy goed ken daarop toe. 
  4. Moenie ‘n klomp valse profiele skep om te kyk hoe lyk jou eks se nuwe kêrel nie! 
  5. Moenie privaatgesprekke vir ander aanstuur nie. 
  6. Moenie ‘n stryery uitlok of begin nie. 
  7. Praat oor dinge en nie oor mense nie.

Wees ook verantwoordelik met jouself! 

Die algoritmes is daar om vir jou ‘n pasgemaakte ervaring te bied, maar as jy heel dag kyk na negatiewe nuus en onvanpaste inhoud, is dit al wat jy (en uiteindelik die algoritme) vir jou brein gaan wys. Jou brein is soos ‘n plantjie – as jy hom voed met goeie inhoud, gaan hy gesond en sterk wees. As jy hom gemors voed – wel, jy is wat jy eet (of na kyk). 

Ter afsluiting…

Sosiale media kan goed of gevaarlik wees – hoe wil jy dit gebruik? 

Twiet Hallo! Stuur vir ons ‘n boodskap met jou versoek en ons kom spoedig na jou toe terug.

Say Hello! Send us a message with your request and we will get back to you as soon as possible.