FB | IG | IN

Kwikstert se gids na die beste staproetes in en om Pretoria! Kom jy saam? 

Partykeer voel die stad net soos ‘n miernes – al wat ons doen is werk, werk, WERK! Dis moeilik vir ons stadsjapies om net stil te sit en te kyk hoe die son op kom… 

couple walking

Min mense weet dit, maar daar is BAIE dinge om te doen in Pretoria buiten bier drink by die naaste watergat of luister na die bure se honde wat blaf. 

Een van die beste stokperdjies vir fisiese en emosionele gesondheid is om te stap! Nou ja, jy kan maar net om die blok gaan stap, maar daar is vele staproetes wat weer jou waardering vir die natuurskoon sal vernuwe. 

Voor ons begin …

Ek moet jou eers vertel van elke stapper se droom”toep”! 

Die toepassing se naam is All Trails en het ‘n lys van 200,000+ staproetes en fietsroetes regoor die wêreld! Gaan loer bietjie watter roetes naby jou is! 

image 12 e

Die toep wys vir jou die roetes, asook al die inligting wat jy nodig het.

Kom ons begin!

Alle stappers sal die volgende weet, maar ek noem dit steeds.

Wat neem ek saam? 

Neem altyd:

  • Stewige skoene, 
  • Genoeg water – min van die roetes het waterpunte, 
  • ‘n Hoed, 
  • Sonbrandroom,
  • Padkos – indien jy ‘n langer roete stap (of vinnig honger word!) en 
  • ‘n Positiewe houding. 

Faerie Glen Natuurreservaat 

Die Faerie Glen Natuurreservaat is lekker naby vir die Oosters in Pretoria. Jy ry dalk elke dag daar verby en het net nog nooit daardie tekkies aangetrek om self te gaan kyk nie! 

Die Roetes: 

  • Hadeda Staproete: 2,3 km (maklik) – ideaal vir jong kinders! 
  • Acacia Staproete: 3,2 km (medium) 
  • Kiepersol Staproete: 4,2 km (moeilik) – pak hom aan as jy reg is vir sweet en klim!

Gaan soek op jou All Trails toep vir die uitkykpunt op hierdie roete. Dit voel of jy die hele Pretoria kan sien van daar bo af! 

Is daar wild? 

Ja! Jy sal heel waarskynlik verby ‘n sebra of twee stap. 

Voëlkykers! 

Die Faerie Glen Natuurreservaat is bekend as ‘n goudmyn vir voëlkykers. Gryp jou verkyker en kom kyk wat jy kan raaksien! 

Koste:

Vowassenes (13 jaar en ouer) R16 per persoon

Pensionarisse en mense met gestremdhede – R6 per persoon

Kinders (ouderdomme 7 jaar – 12 jaar) – R6

Kinders (6 jaar en jonger) – Gratis

By die hek aanvaar hulle kontant en kaarte. 

Kan my viervoetige kinders ook saam stap? 

Ja! Faerie Glen Natuurreservaat verwelkom ook honde, mits jy ‘n permit het daarvoor. Vind uit hoe om jou permit te kry hier

Wolwespruit

image 13 1024x768 e

Wolwespruit is deesdae ‘n ongelooflik gewilde bestemming. 

Hier sal jy PLTFRM en Clay Café ook raakloop! 

Hier is ook nie net staproetes nie. Wolwespruit is baie bekend vir sy fietsroetes! Om beserings te voorkom, is die roetes vir die stappers en vir die fietsryers verskillend – slim! ‘n Fietsryer wil nie ‘n stadige stapper in sy pad hê nie en ek is seker as ‘n stapper skielik omgery word deur ‘n knaap op ‘n fiets gaan hy nie baie opgewonde wees daaroor nie. 

Die Roetes:

Verskoon die Ingels! Dis maar wat die roetes genoem word. 

  • Wolf Pup Staproete: 2.5km (maklik) – ideaal vir klein kinders. 
  • Running Wolf Staproete: 4.5km (maklik en plat) – ideaal vir die hele familie. 
  • Mountain Wolf Staproete: 6.5 (middelvlak en styl) 
  • Running Wolf & Mountain Wolf Staproete: 10km (middelvlak en styl) 

Koste: 

Daar is verskeie opsies vir pryse. Dié roetes is so gewild dat jy ‘n jaarlikse lidmaadskap kan koop! 

Vir die nou-en-dan-stapper, hier is die dagkostes: 

R35 vir kinders en volwassenes 

Kan my viervoetige kinders ook saam stap?

PLTFRM by Wolwespruit is ‘n troeteldiervriendelike restaurant, maar ek is nie seker of hulle jou honde sal toelaat nie. Ek sien wel dat daar spesiale geleenthede geskep word by Wolwespruit en op daardie dae is jou brakke welkom. Hou die Facebook blad dop vir meer inligting! Klik hier

Rietvlei Dam 

Nog ‘n lekker plek wat stappers regoor Pretoria lok is Rietvlei se natuurreservaat. 

Rietvlei Natuurreservaat bied ‘n dagroete en ‘n oornagroete vir die flukse stappers! 

Die Roetes:

  • Dagroete: 14 km – 10-15 mense vir ‘n langerige roete wat jou so 4-5 ure gaan neem. 
  • Oornag-roete: 21 km – hierdie is ‘n drie-dag roete (vanaf ‘n Vrydag tot ‘n Sondag) vir 6-8 mense. 

Koste:

Dagroete:

Volwassenes: R64 per persoon

Pensionarisse: R37 per persoon

Skoolkinders: R37 per persoon

Voorskoolse Kinders: R10 per persoon

Babas: Gratis

Kontak die administrasie-kantoor direk vir die oornagroete se pryse – 012 480 9945.

Hennops 

Hennops is lekker naby vir almal wat in Centurion woon. 

Die Roetes: 

Daar is vier roetes

  • Die Zebra-roete: 5km – (maklik)
  • Die Krokodilberg-roete – 10km (moeilik) en word nie aanbeveel vir kinders nie. 
  • Die Dassie-roete – 2.5km (maklik) ‘n lekker roete vir kinders. 
  • Die Rivier-roete – 1.5km (baie maklik) perfek vir kinders. 

Koste: 

R100 per persoon vir volwassenes

R50 per persoon vir kinders 

Dagbesoekers hoef nie te bespreek nie, daag net op en begin stap!

Woensdae word afgesonder vir pensionarisse. Dan is dit slegs R60 per persoon. 

Donderdae is studente-dag! Vat jou studentekaart saam en betaal slegs R60 per persoon. 

Is daar wild? 

Ja! Gaan kyk bietjie watter van die volgende jy daar raakloop: eland, sebras, koedoes, rooibokke en blesbokke. 

Kan my viervoetige kinders ook saam stap?

Ongelukkig nie! 

The Big Red Barn

Jy sal The Big Red Barn sommer in Irene kry – Dis ‘n antieke skuur wat gerestoureer is en vandag is daar talle winkels, uitstappies en ander aktiwiteite wat voete lok! 

Die Roetes: 

Ons is nie seker of daar nog roetes is nie, maar ons weet van die 10km roete wat geskik is vir alle ouderdomme! 

Die roete is in ‘n Bloekomwoud en is verseker iets om te beleef!

Die Koste: 

Die koste is nie duidelik nie, hulle fokus maar meer op fietsroetes, maar die webblad maak dit duidelik dat jy nie met kontant kan betaal nie. 

Kan my viervoetige kinders ook saam stap?

Volgens All Trails kan jy jou brakkies saam vat! 

Moreleta Kloof Natuurreservaat

Hier is nog ‘n lekker plek om te gaan besoek! 

Die Roetes: 

  • Rademeyer Staproete: 1,5 km (rolstoel-vriendelik)
  • Duiker Staproete: 2,89 km (middelvlak)
  • Suikerbos Staproete: 3,32 km (moeilik)

Die Koste:

Volgens die webblad is toegang GRATIS!

Kan my viervoetige kinders ook saam stap?

Ongelukkig nie. 

Die Botaniese Tuine

Vir ‘n lekker kort roete met baie blomme, gaan stap deur die Botaniese Tuine! 

Vriendelik vir die hele familie – omtrent 3km ver. 

Die Voortrekkermonument

Het jy geweet daar is ‘n staproete? Ek ook nie! Ek voeg hom by, omdat ek weet baie mense sal in hierdie roete belang stel. 

Ek kon nie pryse kry nie, maar sodra ek self die roete gestap het, sal ek dit hier plaas! 

Nou ja …

Ek het net so baie geleer oor staproetes in Pretoria soos jy …

Daar is nog vele meer, maar gaan loer self op jou nuwe gunsteling toep – All Trails

Ons wil weet!

Watter roetes het jy al gestap? Is daar enige roetes waaroor jy graag meer wil weet?