FB | IG | IN

Nilosofie – Hoe om ‘n besigheid te begin

Stap 1 – Wie is ons en waarheen is ons oppad?

image 14

Elke suksesvolle besigheid het met ‘n idee begin – maak nie saak hoe klein nie. Ek dink die meeste idees kan met beplanning, ‘n bietjie logiese denke en ‘n hart vol passie ‘n suksesverhaal wees.

“As ek toe geweet het wat ek vandag weet” is ‘n algemene sê-ding onder besigheidseienaars, maar ek dink nie daar is ‘n handleiding of gids wat jou ooit van foute sal kan vrywaar nie. Ek dink wel dat indien jy op die regte voet afskop, jou skoolgeld goedkoper sal wees. Ek deel graag ‘n paar wenke vir diegene wat wil luister.

Identifiseer die “probleem”

Elke besigheid begin met ‘n “probleem”. 

Wanneer ons ‘n boor koop, wil ons nie eintlik ‘n boor hê nie, maar ‘n gat in die muur of selfs ‘n kunswerk teen die muur. Die boor is net ‘n stuk gereedskap om by die eindresultaat uit te kom. Dit is ook belangrik om te weet dat daar meer as een manier is om jou foto teen die muur te kry. Jy “benodig” nie die boor nie, daar is talle maniere om jou huis te versier. Hierdie is ‘n voorbeeld van “indirekte” kompetisie (meer oor kompetisie later in hierdie artikel). 

Hoe dieper ons delf in die identifisering van ‘n “probleem”, hoe makliker raak ons werk later wanneer ons die produk of diens moet bemark. Die persoon wat graag sy huis wil versier, doen dit heel moontlik om ‘n ander probleem op te los – moontlik om vrede en waardering te ervaar wanneer hulle in hulle huis is of moontlik om vir ander te kan wys en spog. 

Deur dieper te delf het ons onwetend reeds twee teikenmarkte geïdentifiseer.

Identifiseer die waarde van die “probleem”

Dit word dalk as vanselfsprekend aanvaar, maar probleme het waardes en direkte en indirekte kompetisie speel ‘n groot rol in die prys wat jy vir ‘n diens of produk kan vra. 

Wat is direkte en indirekte kompetisie? 

Direkte kompetisie is ‘n mededinger wat ‘n identiese produk of diens lewer. Indirekte kompetisie verwys na produkte of dienste wat dieselfde probleem op los, maar deur middel van ‘n ander produk of diens.

‘n Nuwe innoverende manier om iets te doen is slegs ‘n oplossing as ons dit vinniger, deegliker of goedkoper kan bied, anders is daar niks uniek wat potensiële kliënte kan lok na jou produk of diens nie.

Die maklikste manier om die waarde van jou produk regtig effektief te bepaal is om eerlik te wees met jouself. Vermy verkoopstaktieke op jouself (ja, jy het reg gelees, hou op om jouself om die bos te lei en van die ‘goeie’ dinge te oortuig). Moet nie slegs die antwoorde probeer kry wat jy wil hoor nie. Fokus eerder op die antwoorde wat jy nie wil hoor nie. Dit forseer jou om jou besigheid te bou en om weerstand te bied teen moontlike uitdagings.

‘n Goeie manier om daarna te kyk is om ‘n teikenkliënt te neem en jouself in sy skoene te plaas en dan alternatiewe oplossings teen mekaar op te weeg. Dit is weereens belangrik om nie net antwoorde te soek wat jy wil hoor nie. ‘n Sterk besigheid word gebou op eerlikheid (veral met jouself). 

Die bemarkingsektor is ‘n goeie voorbeeld – sagteware wat outomaties kliënte soek en aan hulle produkte verkoop kan duur klink aangesien dit amper geen tyd en moeite verg om te gebruik nie. Maar die sagteware kan lei na aansienlike verkope wat dan weer lei na meer wins.

Soms neem dit ‘n bietjie tyd en energie om dit aan kliënte te verduidelik, maar as ons R 3 000 spandeer wat daartoe lei dat ons R 30 000 meer wins maak, is dit nie dan ‘n besluit wat homself geneem het nie?

Begin met “hoekom?”

Daar is ‘n boek genaamd – “Start with Why” deur Simon Sinek. Die hooffokus van die boek (soos mens relatief maklik kan aflei) is om die fokuspunt van jou besigheid rondom die vraag “hoekom?” te sentreer. 

Sodra dit jou invalshoek is, maak dit jou strategiese beplanning baie makliker. Dit gee ons ‘n duidelike indikasie oor die “regte” antwoord vir meeste vrae wat oor jou pad sal kom. Ek stel voor dat enige entrepreneur hierdie boek lees.

Maak ‘n lys van kernwaardes

Kernwaardes is ‘n baie interessante konsep (vir my). ‘n Paar jaar gelede sou ek die eerste persoon gewees het wat vir jou sou sê dat dit nie nodig is nie. Maar in my soektog na diepte (in alles wat ek aanpak) het ek wel besef dat kernwaardes een van die belangrikste elemente van ‘n besigheid vorm.

Maar die probleem met kernwaardes is hierdie: af en toe kies ons beginsels net om te kan sê ons het dit – dit is egter verkeerd. Kernwaardes moet deel vorm van jou dag-tot-dag bedrywighede. 

Dit is deel van die besigheid se persoonlikheid (ja, elke besigheid het ‘n persoonlikheid, dit word later in die reeks bespreek) en vorm deel van jou besluitneming. Die doel van die oefening is egter om diep te dink oor jou besigheid. Almal is “eerlik”, “opreg” en “verantwoordbaar”. Volgens my is dit net mooi woorde teen ‘n muur, die veronderstelling met kernwaardes is dat ons dit as ‘n besluitnemingsmaatstaf gebruik in ALLES wat ons doen. 

In elke situasie moet die vraag wees – is ons besig om eerlik en opreg te wees? Kernwaardes hoef nie kompleks te wees nie, dit is belangriker om eenvoudige kernwaardes werklik uit te leef in jou besigheid as wat dit net iets is wat jy ingevul het by ‘n “Start your business”-werkswinkel iewers in jou verlede.

Worstel met geldgenerasie en die eindgebruiker

Ek sien dikwels dat mense by geleenthede induik, slegs omdat hulle sien die geleentheid  maak vinnig geld. Ek is dalk nie slim genoeg om baie van hierdie goed te verstaan nie (dit is dalk hoekom ek nie baie geld maak nie), maar gelukkig is hierdie my reeks en ek kan mos my agendas op julle afdwing (knipoog).

Ek gaan die onlangse “boom” in die wildbedryf as voorbeeld gebruik. Tot vandag toe kon niemand vir my verduidelik hoekom die pryse vir wild so duur is nie. Daar word altyd aan my verduidelik dat die rede vir die hoë prys is omdat die dier goud is of omdat sy horings so groot is, maar meestal word daar net gesê: Wild verkoop vir x aantal op ‘n veiling, asof dit die saak afhandel. 

So, ek wil net bevestig, ons koop hierdie bok en hoop met alles in ons dat sy kinders ook sy goeie gene kry en verkoop dan sy kinders aan die volgende skaap wat met die probleem sit.

Kom ons haal die veiling uit die prentjie uit (en ja, ek is steeds onkundig), ek neem aan daar is ‘n ander doel agter wild aankoop as net om dit te verkoop – wie is dan jou eindgebruiker? Die jagter? Maak die prys dan sin?

Nie regtig nie. So al wat gebeur is dat een of ander ou besluit het hy is bereid om x aantal te betaal vir iets en almal anders het gesien dit is die prys waarvoor die produk gaan en het ook op die wa gespring. Daar is nie logika agter die besluit nie.

Ek sluit hierdie in, aangesien ek wil hê mens moet dink aan die waarde wat jy met jou produk of diens aan gebruikers bied – Dit is die hoeksteen van ‘n volhoubare besigheid.

Stel jou doelwitte

Ek dink mens onderskat die waarde van doelwitte. Ons kan onderskei tussen korttermyn- en langtermyndoelwitte. Korttermyndoelwitte is gewoonlik iets wat ons binne 12 maande kan bereik. Dit is ook die trappies om jou langtermyndoelwitte te bereik.

Die waarde van ‘n langtermyndoelwit is groter as wat mens dink. Eerstens dwing dit jou as besigheidseienaar om te dink (en droom) oor die toekoms van jou besigheid. As jy nie aktief die langtermyn plan in jou kop het nie, is dit soos om op vakansie te gaan sonder ‘n eindbestemming en net te ry en hoop jy kom iewers uit. Jou korttermyndoelwitte is die roete wat jy volg.

Ek glo ook daaraan om op te tree asof jy reeds jou doelwitte bereik het, besluite moet gegrond word op die toekoms.

Skryf jou organogram

Wat is ‘n organogram, vra jy? 

‘n Organisasiekaart, ook genoem organigram of organogram, is ‘n diagram wat die struktuur van ‘n organisasie,  verwantskappe en relatiewe rangorde van sy onderdele en posisies / poste toon.- Wikipedia

‘n Organogram is ‘n snaakse ding, mens besef nie altyd hoe baie leiding dit bied nie.

My filosofie is om die organogram op te stel met titels in plaas van name. Skryf ook jou organogram asof jy klaar ‘n volwasse maatskappy is. Wanneer jy klaar is, ken jy name aan titels toe – een naam kan by meer as een titel kom. Die rede is dat daar ‘n duidelike hiërargie in plek is soos jy nuwe werknemers in titels in skuif. Die verantwoordelikhede van elke titel is ook ongelooflik belangrik.

Die organogram dien dan ook as ‘n padkaart vir nuwe werknemers om te kan sien waar hulle is en waarheen hulle oppad is. 

Lees gerus ook die volgende artikel vir meer “in diepte” riglyne. https://www.emyth.com/inside/your-organization-chart

Boekelys

Deur die loop van hierdie reeks gaan ek baie boeke “voorskryf” vir dié wat graag wil leer by die slim mense. 

Vir eers, begin met hierdie twee: 

  •       Start With Why – Simon Sinek
  •       The E Myth – Michael E. Gerber

Leer meer oor hoe om ‘n besigheid te begin in my volgende artikel Stap 2 – Bedrywighede wat in Julie gepubliseer sal word.