FB | IG | IN

Slaan munt uit Facebook betaalde advertensies

Indien jy ‘n besigheidsblad op Facebook besit het jy bes moontlik al die blou “Boost”-knoppie onder jou Facebook-plasings gewaar en dalk selfs waaghalsig probeer … Die meeste bladeienaars weet egter glad nie presies hoe betaalde advertensies (bemarking) op Facebook werk en hoe om die meeste waarde vir jou geld daaruit te kry nie.

image 19

Hoe werk Facebook Ads? 

Met Facebook Ads betaal jy Facebook om jou advertensie tussen mense se Nuusbrokkies te vertoon. Dit werk baie soos wanneer jy ‘n advertensie in ‘n tydskrif, nuusblad of op ‘n radiostasie plaas. Die groot verskil lê daarin dat wanneer jy vir ‘n advertensie in ‘n tydskrif betaal, betaal jy vir spasie wat jy gebruik, maar wanneer jy op Facebook adverteer, betaal jy per interaksie. Hierdie interaksie kan die volgende behels: reikwydte (hoeveel mense jou advertensie sien), klieks, handelings of selfs aankope op ‘n aanlynwinkel.

Elke aksie het ‘n spesifieke koste en dit word gekoppel aan ‘n aantal faktore, soos die gehoor wat jy gekies het om te bereik asook die teks en media wat jy in jou advertensie gebruik.

Jy kan meer doen as “Boost” 

Alhoewel die “boost”-knoppie die gewildste tipe Facebook advertensie is, is daar meer as 10 ander tipes Facebook advertensies wat jy kan gebruik afhangend van jou bemarkingsdoelwit.

Elke advertensie het ‘n doelwit, dit is die aksie wat jy wil hê die gebruiker moet neem wanneer iemand na jou advertensie kyk. Die doelwit van die “boost”-plasing is om interaksie met jou plasing uit te lok (hou van, lewer kommentaar of deel). Ander doelwitte kan insluit om mense na jou webtuiste of blad te herlei, videokyke, leidrade inwin (waar iemand ‘n vorm op Facebook invul), boodskappe, katalogusse en meer.

Dit is dus baie belangrik om die tipe advertensie te kies wat jou bemarkingsdoelwit sal bereik. So moenie net jou oë toeknyp en die “Boost”-knoppie druk nie, dalk moet jy eerder iets anders probeer indien jy nie bloot interaksie met daardie spesifieke plasing wil uitlok nie.

Hoe slaan ek munt uit my Facebook advertensies?

Met sosialemedia-bemarking is dit bitter belangrik dat jou inhoud met jou teikenmark praat sodat jy die beste resultate kan kry. ‘n Goeie voorbeeld: Om advertensies oor motorversekering vir iemand te wys wat nie eers ‘n kar besit nie gaan die doelwit mis. In dieselfde asem sal dit net so nutteloos wees om vir iemand advertensies van hondekos te wys, terwyl hulle net katte aanhou. Jy mors jou bemarkingsbegroting.

Vir die beste resultate moet jy verseker dat jou advertensie iemand bereik wat jou produk sal kan gebruik en wat bes moontlik sal belang stel om jou produk aan te skaf. Jy moet ook seker wees dat jou boodskap so bymekaar gestel is dat dit daardie persoon se aandag sal trek.

Om die korrekte mark met jou advertensies te bereik is die enkel belangrikste ding om seker te maak jou advertensiebegroting word optimaal aangewend. Dit neem wel tyd om hierdie vaardigheid aan te leer om jou teikenmark te verfyn. Indien jy water trap en sukkel om waardevolle resultate uit jou Facebook advertensies te kry, oorweeg dit om ‘n bemarkingspesialis se hulp in te roep of dalk ‘n Facebook-advertensie-kursus by te woon.